Aanvanklik staan jy dit teë, maar uiteindelik besef jy dit is ’n verlore saak wanneer jy die soveelste keer kapsie moet maak. Mettertyd begin jy eintlik jou “nuwe” rol geniet. Hoe lekker dit is om rustig by ’n braai te kan kuier. Die diep vrede wat die stilte van ’n woestyn of woud kan bring. Hoe bevredigend verhoudings met ou vriende kan wees.
’n Mens besef nie aldag hoe diep verandering werklik is nie. Net die ander dag lag ons lekker saam met ’n klomp Vrystaatse boere om ’n braaivleisvuur oor hoe hier vandag met sojabone en kanola by ons geboer word asof dit nog altyd hier was.
Vanjaar gaan Suid-Afrika vir die eerste keer heel moontlik meer sojabone as mielies plant, waar die bedryf net twee dekades gelede nog in sy kinderskoene gestaan het. Dieselfde geld kanola. En wat van pekanneute?