Die dassiejag van die naweek is teen dié tyd net ’n vae herinnering, en op my bedkassie staan ’n bak aarbeie wat my ma van die plaas af saamgestuur het en wat my heimwee net vererger.
Oor die jare sal ek die dowwe gevoel in my maag leer ken as die berugte “Sondagaand-gevoel”. Soos nou weer. Eerskomende Woensdag moet ek Oudtshoorn toe om iets sinvols op Agri Wes-Kaap se streekkongres te gaan sê. Maar wat vertel ’n mens die boere in die tawwe omstandighede waarin hulle hulself tans bevind?
Oudtshoorn, en groot dele van die Klein-Karoo, kom uit ’n droogte wat op plekke amper Bybelse afmetings aangeneem het. Kolle het steeds nie volkome herstel nie.