Vir jare het Michael gepleit, oral waar hy kon, dat om meer geld met vleisuitvoer te maak, die enigste manier was vir die rooivleisbedryf, en veral die vleisbeesbedryf waarvoor hy so lief was, om uit sy laeprys-kosteknyptang te ontsnap. Dit sou die hele bedryf tot ’n volgende vlak neem.
’n Stygende gety wat alle skepe sou lig, soos Michael dit graag beskryf het. Almal sou baat vind — van kommersiële boere tot die madala met sy 30 beeste in die verste uithoek van ’n stamgebied.
Daardie beeste wat as deel van die informele sektor byna 40% van die nasionale beeskudde uitmaak, maar nog glad nie juis kommersieel ingespan is tot voordeel van die land nie. ’n Reuse-geleentheid. Ons kry te min vir ons beeste, was Michael se eenvoudige refrein.