Ek dink nie die mens is gebou om probleme nié te kan oplos nie en om só vas te haak by ou dinge soos wat tans die geval in Suid-Afrika is.
Sedert ons oervoorvaders die eerste keer ’n vuur aangesteek en die wonder van braaivleis ontdek het, en ook ’n goeie nagrus kon geniet toe vlamme vir die heel eerste keer sabeltandkatte uit hul grotte kon hou, is die mensdom op ’n nimmereindige reis van probleemoplossing — om die lewe te verbeter en gemakliker te maak.
Van die uitvinding van die wiel tot die splyting van die atoom en die alomteenwoordige digitale media wil dit voorkom of ons planne net nooit opraak nie. Behalwe in Suid-Afrika, waar beleid veroorsaak dat uitnemende planmakers in die dryfsand van middelmatigheid en onbeholpenheid bly rondspartel.