Op ’n noodvergadering tussen die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die bedryf se dieregesondheidsforum op 30 Maart is ’n subkomitee aangestel om met dringende oplossings vorendag te kom. Die minister wou teen einde April antwoorde hê. Maar hier is ons reeds diep in Mei en die komitee het nog nie eens vergader nie. Intussen vrek diere. Perde van perdesiekte en skape van bloutong.
Op plekke tot 50% van boere se kuddes, sê James Faber, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie — “ ’n ramptoestand”. Maar Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het die monopolie op die vervaardiging en verspreiding van veral perdesiekte- en bloutongentstowwe, en die private sektor word eenvoudig nie toegelaat om ’n plan te maak nie.
Al staan die laboratoriums letterlik reg om die entstowwe te vervaardig. Dit kan mos nie reg wees nie. Waaroor natuurlik geswyg word, is die byna R1 miljard rand wat die staat reeds aan OBP bewillig het om sy probleme op te los.