Dit is ’n onrusbarende vraag. Baie mense wonder daaroor, veral namate die las al hoe swaarder word. In die jagveld oor die naweek kom dié onderwerp weer op. Laataand, om ’n hardekoolvuur, soos dit hoort.
Ons gesels oor hoe die platteland van ons kinderjare deesdae in baie opsigte onherkenbaar is. Hoe burgemeesters destyds net ’n reistoelae ontvang het en daar nie sprake was van duur karre en die ander bisarre voordele waarop raadslede van piepklein, bankrot munisipaliteite meen hulle geregtig is nie.
Die skande van hoe munisipaliteite vandag net nóg ’n plek geword het wat skaamteloos besteel word. Plaaswerkers het destyds nog op plase in goeie steenhuise gebly. Meel, suiker, koffie, olie, melk en vleis was deel van die vergoeding.