Veeboerdery is ’n stadige proses. Dit betrek groot hoeveelhede kapitaal, maar terselfdertyd sukkel die meeste veeboere met kontantvloei. Ons is kapitaalryk, maar kontantarm!
Die voordele van ’n duur ram of bul sal eers oor drie tot vier jaar sigbaar raak wanneer sy dogters begin reproduseer. Daarteenoor sal ’n graanboer binne ses maande weet of hy die regte besluite geneem het. Enige boer het ’n loopbaan van net sowat 40 jaar.
Enige veranderinge aan jou boerderymetodes sal tien jaar duur om vrugte te dra. As jy voortdurend jou metodes verander, sal jy eintlik nooit die voordele van hierdie “verbeteringe” beleef nie. Moenie krap waar dit nie jeuk nie.