Jy kan nie van krimpende marges wegkom nie, maar die vraag is hoeveel hiervan self toegedien is. Die wet van afnemende opbrengs is ’n komplekse begrip, maar as jy dit eers onder die knie het, werk baie dinge in boerdery uit.
Eerstens is hierdie wet ’n ekonomiese wet, en word nes die wet van vraag en aanbod aan alle Ekonomie 1-studente geleer. Geld, oftewel kapitaal, volg die weg van minste weerstand. Wanneer iemand met die mark inmeng, beweeg geld na waar daar minder inmenging is.
’n Klassieke voorbeeld is die wolbedryf. ’n Stelsel is in werking gestel om die pryse tot voordeel van die boere te manipuleer. Twintig jaar later was die wolbedryf bankrot, en produksie het van 150 miljoen kg tot 40 miljoen kg gedaal.