Reën is ’n boer se lewensaar, en wanneer dit val, is die gemoedere sommer ontspanne en lig. Maar as dit wegbly, word jy gekonfronteer met ’n klomp emosies en, belangriker nog, keuses.
Vir die saaiboer is die spertye baie meer problematies as vir ’n veeboer. Om dié rede is veeboere waarskynlik swakker beplanners as saaiboere. Ons dink mos altyd ons het nog baie tyd om die aanpassings te maak . . . tot dit op ’n dag te laat is.
Vir die kleinste impak op veegetalle moet die aanpassings altyd so gou moontlik gemaak word. Groot dele van die somerreëngebiede het tot nou toe nie baie reën gehad nie. Daarom is dit tyd om jou droogteplan te aktiveer. Dit is nou as jy een het.