Jaarliks is dit die gebruik om ’n siening in die toekoms te waag ten opsigte van die ekonomie en veranderlikes wat belangrik vir die landbou is en wat in ag geneem behoort te word met beplanning. Niemand kan egter presies voorspel wat gaan gebeur nie.
Die makro-ekonomiese en geopolitieke omgewing bly onstabiel weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne wat die landbou se inset- en uitsetpryse vir olie, kunsmis en graan regstreeks raak.
Daar is ook ander konflik-kwessies wat kan opvlam, soos ’n toenemende beweging na die beskerming van eie markte. Dit bemoeilik wêreldhandel en beweeg weg van die benadering van ’n vrye mark en handel. Dit hou risiko’s vir Suid-Afrika se oop ekonomie en landbou in.