Hoewel die pryse van graan- en oliesaadkommoditeite laer begin neig in dollarwaarde, is daar steeds heelwat risiko’s, toon die jongste ontledings van die Voedsel-en-landbou-organisasie van die Verenigde Nasies. Die wêreld se voorraad-tot-verbruikverhouding van basiese graan is stadig maar seker besig om te verswak.
Intussen het die wêreld se landbouproduktiwiteit stadiger begin groei, veral in ontwikkelende lande, wat ook netto invoerders van basiese voedsel is. Daar is 45 lande wêreldwyd wat voedselhulp nodig het.
Daarvan is 33 in Afrika: die meeste in Afrika suid van die Sahara. Hoewel die wêreldvoedselprysindeks begin stabiliseer het, is die werklikheid dat pryse in November 2022 nog effe hoër was as in November 2021 en steeds op rekordvlakke is.