Dit sal naïef wees om te wil voorgee dat alles klopdisselboom verloop in die internasionale ekonomie en geldmarkte, nog minder so in Suid-Afrika. Suid-Afrika se ekonomie is onder aansienlike druk.
Politieke woelinge is aan die orde van die dag namate staatsdienste misluk, ou skelms uit die tronk probeer bly en nuwe skelms hul vingers in die staatsbeursie probeer kry. Dit beteken daar word nie aandag gegee aan die bestuur van die Suid-Afrikaanse ekonomie nie.
Internasionaal is sake nie veel beter daaraan toe nie met wegholinflasie, energietekorte in die komende Europese winter, skerp stygende rentekoerse en dalende aandeelmarkte.