Al hoe meer ekonome meen inflasie kan in die afsienbare toekoms skerp begin styg. Die Voedsel-en-landbou-organisasie van die Verenigde Nasies se indeks van internasionale landbouvoedselkommoditeite toon dat pryse in Mei 2021 sowat 39,5% hoër was as in Mei verlede jaar.
Plaaslik het die inflasiekoers in Mei gestyg tot 5,2%, wat naby die boonste vlak van die teikenband (3-6%) van die Reserwebank is. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het reeds verklaar hy wil die inflasiekoers graag rondom 4,5% anker.
Hy het met sy jongste vergadering aangetoon dat Suid-Afrikaners teen die einde van die jaar ’n styging van sowat 0,25 persentasiepunte in rentekoerse kan verwag, en moontlik weer in 2022.