Die grootskaalse storting van hoendervleis het die plaaslike bedryf bedreig. Belanghebbendes en die staat het saamgewerk aan ’n beleidsraamwerk om die bedryf te laat groei.
Die hoenderbedryf is die grootste bedryf in die Suid-Afrikaanse landbousektor. Dit het in 2021 ’n produksiewaarde van R62 miljard gerealiseer, waarvan R51 miljard die produksie van braaihoenders was. Elke week word sowat 22 miljoen braaihoenders geslag, wat die bedryf die grootste vleisverskaffer in Suid-Afrika maak.
Dit is ook die bedryf wat die meeste veevoer gebruik. Daarom is die welstand en groei van die bedryf regstreeks tot voordeel van mielie- en sojaboere.