Verskillende sogenoemde meesterplanne is die afgelope tyd bekend gestel ná onderhandelinge tussen die landbou en die departement van handel, nywerheid en mededinging. Daar is een vir die landbou en landbouverwerking, een vir die hoenderbedryf en een vir die suikerbedryf.
Veral die meesterplan vir die hoenderbedryf waarop in 2019 ooreengekom is, is voorgehou as ’n suksesvolle ooreenkoms tussen die regering, vakbonde, verwerkers, produsente en selfs invoerders.
Een van die kernpunte in die ooreenkoms is dat die plaaslike bedryf voldoende beskerming met teenstortingstariewe sou ontvang in gevalle waar bewys kon word dat ingevoerde produkte gestort word. Die plaaslike produsente het hulle verbind tot miljarde rande se nuwe investering.