Vraag en aanbod bly die fundamentele aandrywers van markpryse in die rooivleisbedryf. Natuurlik kan gedebatteer word dat markinligting moontlik nie voldoende is vir die deursigtige werking van die mark of dat die markmag nie gebalanseerd is nie.
Tog meen ek dat die rooivleismark relatief deursigtig is en dat markinligting wel op ’n taamlike vlak gerapporteer word. Gegewe dié uitgangspunt is dit noodsaaklik dat kennis geneem word van die markaandrywers wat in die volgende jaar of wat die rigting van die prys kan beïnvloed.
In die beesvleisbedryf het die beesslagsyfer die afgelope vier jaar met sowat 4% afgeneem, terwyl produsentepryse met sowat 25% gestyg het. Skaapslagsyfers het die afgelope vier jaar met sowat 9% gedaal en die prys het met sowat 16% verbeter.