Kunsmis is nie net een van die duurste insette in die produksie van basiese voedsel nie, maar is ook noodsaaklik om die opbrengspeile van graan te handhaaf en te verbeter, en sodoende voedselproduksie te laat bly groei. Die afgelope weke het internasionale kunsmispryse begin daal.
Ongelukkig duur dit tot drie maande voordat die laer pryse na die plaaslike markprys deurwerk. Intussen is invoerders bang dat pryse nog kan daal. Hulle wil nie te vroeg groot bestellings plaas nie, want dan kan hulle met duur voorraad in hul pakhuise sit.
Intussen het die plaaslike mark ook begin verskuif vanaf standaardmengsels na kliëntspesifieke mengsels. Die jongste praktyk met presisietoediening van plantvoedingstowwe is dat mengsels saamgestel word volgens aanbevelings van onafhanklike grondkundiges en -ontleders.