
Prof. Johan Willemse het op sy kwartaallikse landboumarkvooruitskouing in Bloemfontein gesê Suid-Afrika kan ’n totale mielieoes van 14 miljoen tot 15 miljoen ton te wagte wees danksy die verbetering van produksietoestande in die somerreëngebied.
“Daar is eenstemmigheid dat ’n groot mielieoes voordeliger as ’n klein oes is. As ’n groter aanbod die prys laat daal, is dit tot veeboere se voordeel. Dit sal die winsgewendheid van die voerkraalbedryf en die intensiewe versorging van vee ’n hupstoot gee.”
’n Lae vlak van die oordragvoorraad laat die prys van mielies na R3 000/ton neig, wat volgens Willemse tot vlakke van R2 000/ton kan afneem weens die verwagte goeie lewering wat die meulenaars en voerbedryf in aanmerking moet neem.
Staatsbesteding
Volgens Willemse is staatsbesteding en -skuld steeds op ’n wegholpad. “Die rentekoers kan nie te veel verlaag word om die ekonomie te stimuleer nie, aangesien die land verdere afgraderings van die kredietagentskappe kan verwag. Die verwagting is ook dat heelwat geld die land gaan uitvloei, wat meebring dat die rentekoersvlakke betreklik hoog moet bly om buitelandse kapitaal te lok.”
Hy stem saam met ekonome se siening dat die wisselkoers eerder swakker as sterker sal raak. ’n Swakker wisselkoers gee onder meer aanleiding tot ’n neiging van duurder brandstof oor die volgende jaar. Dit behoort nie ’n groot uitwerking op boere se insetkoste te hê nie, aangesien die groter as verwagte somergraanoes dit kan teëwerk.
Hoender
Wat pluimvee betref, wag die hoenderprodusente op die aankondiging van ’n invoertarief van meer as 60% op ingevoerde pluimveeprodukte as teenvoeter vir die storting van goedkoper produkte.
“Almal hou die Staatskoerant dop vir ’n aankondiging oor die tarief wat reeds ’n week gelede afgekondig sou word. Dit sal die plaaslike hoenderbedryf help om produksie uit te brei. Tans beperk die groot invoervolumes produsente se uitbreiding,” het hy gesê. Die produsenteprys vir hoendervleis sal na verwagting rondom R25/kg tot R26/kg bly. In die geval van die goedkoper, ingevoerde produkte gee die kleinhandel nie die voordeel na die verbruiker deur nie.
Skape en speenkalwers
Die markverwagting vir die veebedryf word deur ’n tweesnydende swaard beheer.
Skaapvleisprodusente word gekwel deur trae produsentepryse en skape se slaggetalle wat afneem in die afwesigheid van die verbruiker se koopkrag. Wat beesvleis betref, is die speenkalfprys in die noordelike produksiestreek tussen R35/kg en R37/kg.
In Namibië is die speenkalfprys egter R40/kg om voorsiening te maak vir aanwas wat vir kuddeherstel as teeldiere teruggehou word. “Al die oorskot-beeste wat vir die slagmark bestem was, is uitgeslag.”
Dr. Frans Dreyer, hoof van graanbemarking by Senwes, het gesê ’n belowende somergraanoes is te wagte. Senwes het oestoere na Mpumalanga, deur die Vrystaat en Noordwes onderneem. Versuipkolle is op plekke by mielies gesien.
Volgens die maatskappy se verwagting sal die oes “voldoende wees om kwellings oor ’n tekort” die hoof te bied, te danke aan ’n verwagte neutrale weerpatroon waarvolgens die reënval in die somersaaigebied gelyk aan of effe hoër as die langtermyngemiddelde kan wees.
Bankwese
Mnr. Daneel Rossouw, ’n landboubestuurder van Nedbank, het gesê die bankwese word die meeste deur onsekerheid en wisselvalligheid geraak, soos die onsekerheid rondom die rentekoers- en wisselkoersskommeling wat ’n groot rol speel in die winsgewendheid van boerdery.
Hy het gesê die meeste boere maak nie voorsiening vir risikoverskansing om die volhoubaarheid van hul ondernemings op lang termyn te verseker nie. “Van die grootste risiko’s op internasionale vlak is die versuim om jou boerdery teen klimaatsverandering te verskans. Dit is ’n baie groter risiko in Suid-Afrika as wat grondhervorming is.”
Volgens Rossouw spits handelsbanke hul nou in hul verskansingsvoorstelle daarop toe om onder meer unieke produkte vir hernubare energie te finansier, soos die gebruik van skadunette oor gewasse, die finansiering van nuwe tegnologie ten opsigte van watervoorsiening en besproeiing.
Hy het gesê die risikoprofiel van bankkliënte verskil baie van provinsie tot provinsie en selfs in verskillende gebiede binne provinsies. Dié neiging geld veral die Vrystaat, Noordwes en die Wes-Kaap.
“Kredietverlening deur handelsbanke word nie meer deur bates bepaal nie, maar eerder of die betalings en rente op lenings deur produksie gedelg kan word.”