Daar word vertel dat die wetenskaplike Albert Einstein nooit eksamenvrae meer as een keer in sy vraestelle gebruik het nie, met een uitsondering. Sy assistent aan die Princeton-universiteit het altyd sy vraestelle nagegaan voor dit na die drukker gestuur is.
Een jaar het hy opgemerk dat die professor een van die vorige jare se vraestelle net so vir sy studente wou aanbied. Hy het gedink die verstrooide proffie het dalk ’n fout begaan en het hom daaroor gepols.
“Nee,” was sy antwoord, “dit is korrek só – die vrae is dieselfde, maar die antwoorde het intussen verander.” Dieselfde geld veldbestuur. In die verlede was die klem in veld- en kuddebestuur hoofsaaklik op die plante, die reënval, die weidende dier en aanvullende voeding en byvoeding.