Dit het goed gereën oor groot dele van die grasveldgebiede van Suid-Afrika, met die gevolg dat die veld baie lank uitgegroei het en hierdie winter baie veselrig gaan wees. Vee gaan sukkel om die nodige voedingstowwe aan dié gras te onttrek. Veselvertering is nie ’n maklike begrip om onder die knie te kry nie.
Dit is ingewikkeld, maar noodsaaklik om te verstaan as ’n mens diere beter gevoed wil hou op die oorvloed voer van swak gehalte. Om veselverteerbaarheid te verstaan, is dit belangrik om te verstaan wat vesel is. Daar kan uit twee perspektiewe daarna gekyk word.
Die een is agronomies en die ander behels voedingswaarde. Vanuit ’n agronomiese perspektief is vesel ’n strukturele selkomponent wat eerstens ondersteuning aan die plant bied en tweedens meer droëmateriaal (DM) daarstel vir beweiding.