’n Ou kollega van Manie het altyd gesê daar is veral twee tydperke wanneer boere onder mekaar baklei. Die een is wanneer dit finansieel sleg gaan en elkeen ’n sondebok probeer soek om te beskuldig. Die ander is wanneer dit geil gaan en daar tyd is om aandag te skenk aan klein verskille en selfs dalk onbenullighede.
Wat ook al die omstandighede en redes: Verdeeldheid is erg! Die jongste voorval is waar ses kommoditeitsorganisasies wat ontwikkelende boere verteenwoordig, hul bande met Afasa (African Farmers’ Association of South Africa) verbreek het.
Die ses is Safda, wat suikerrietkwekers verteenwoordig, Sagfa vir graanboere, Apga vir pluimveeboere, Nerpo vir rooivleisprodusente, Agrasa vir wildboere, en DFDC-SA, ’n sagtevrugte-ontwikkelingskamer.