In sy jongste uitsprake is dit laasgenoemde toe hy lede van die SA Polisiediens op Mitchells Plain aangesê het: “Skiet eers en vra dan vrae.” Manie is heeltemal bewus van die bendegeweld en misdaad in die land en stem saam dat die polisie streng moet optree.
As ’n minister egter polisielede aanmoedig om eers te skiet en dan te kyk wat die omstandighede is, is dit ’n bietjie dik vir ’n daalder. Die DA stem saam en vra (vir die soveelste keer) dat Cele afgedank moet word. Andrew Whitfield, skaduminister van polisie, sê die roekelose aanmoediging om te skiet en later vrae te vra is aanhitsing tot geweld.
Die party gaan dit na die menseregtekommisie vir ’n ondersoek verwys, asook na die openbare beskermer as ’n moontlike oortreding van ministers se etiese kode.