Voorbeelde van landbouplanne wat in die naam van “grondhervorming en transformasie” op niks uitgeloop het nie, is te veel om te noem. Twee voorbeelde is die ambisieuse projek om 44 agriparke te vestig, asook die ou departement van grondsake se herkapitaliseringsprojek.
Die mikpunt van die agriparke in die armste dele van die land was om 300 000 nuwe kleinskaalse boere te ondersteun en 145 000 werkgeleenthede in landbouverwerking teen 2020 te skep. Miljarde rande is aan hierdie grootskeepse mislukking bestee. Vandag kan daar omtrent niks daarvoor gewys word nie.
Wat die herkapitaliseringsprojek betref, is meer as ’n miljard rand aan voornemende boere uitgedeel wat dit vir boerdery moes aanwend en bewys hoe dit bestee was.