Iemand het getweet dat Suid-Afrika oor vyf jaar voedseltekorte gaan ondervind en dat jong mense hulle tot boerdery moet wend om selfvoorsienend te kan raak. Sihlobo het geantwoord dat daar tans geen bewyse vir ’n voedseltekort oor vyf jaar is nie. Onmiddellik het ’n klomp mense, wat met reg swartgallig is oor die huidige probleme wat deur beurtkrag veroorsaak word, hom oor sy optimisme gekritiseer.
Sihlobo moes mooi bontstaan om te verduidelik dat hy nie vir ’n oomblik die verwoestende gevolge van beurtkrag op die landbousektor onderskat nie, en dat sy opmerking los staan van die ernstige ongunstige gevolge van beurtkrag.
Hy het self al geskryf en gepraat oor die verslegtende energiekrisis en die gevolge vir die landbou en landboubesighede. Ook het hy beklemtoon dat dit waarskynlik die ernstigste kwessie is waarmee die plaaslike landbou tans te doen het.