As Manie se somme reg is, word vanjaar se 81 956 besoekers oor die vier dae net oortref deur 82 817 besoekers in 2018. Die 823 uitstallers wat vanjaar deelgeneem het, is egter die meeste nóg met die vorige rekord in 2019 op 775. Boonop sê uitstallers daar is flink sake gedoen.
Manie het weer besef hoe wyd die geldelike hupstoot vir die ekonomieë van omliggende dorpe is. ’n Studie van 14 jaar gelede het al getoon dat uitstallers se omset meer as R1 miljard is en dat besoekers meer as R7 miljoen bestee.
Dit is egter nie net tradisionele landboubesighede wat op Nampo wil pap skep nie. Manie se kollega vertel skertsend dat die ontkleedansers van Klerksdorp vanjaar weer hul opwagting op Nampo-park gemaak het en hul besigheidskaartjies onder niksvermoedende boere uitgedeel het.