Hy het tydens ’n aanlyn gesprek met die publiek en joernaliste gesê hy het met die polisie gepraat en gesê daar moet voortaan groter klem op plaasmoorde gelê word. Dit volg nadat opposisiepartye, die burgerlike samelewing en die georganiseerde landbou die afgelope tyd sterk te velde getrek het oor die skerp toename in plaasaanvalle en -moorde in Junie en die begin van Julie.
Kort voor dit het Bheki Cele, minister van polisie, hom ook daaroor uitgelaat. Hy het aan die parlement se portefeuljekomitee vir polisie gesê die polisie neem die veiligheid van plase ernstig op en dat die werksverhouding met boere voortdurend verbeter word.
Selfs genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het op dieselfde geleentheid bevestig dat landelike veiligheid as ’n voorrangsaak geag word en dat die spesiale aanpassingsbegroting van R3,7 miljard wat vir sigbare polisiëring begroot is, ook daar is om die toename in plaasmoorde te bestry.