Hume besit omtrent 2 000 witrenosters wat hy op sy wildsplaas naby Klerksdorp in Noordwes teen groot koste teen stropers beskerm en daagliks voer. Hoewel die regering ander syfers voorhou, meen kenners Hume het omtrent soveel renosters as wat daar in die Krugerwildtuin oor is.
Hume het die projek in 2009 begin en het oor die jare baie hard geveg teen die 1977-verbod van die konvensie vir handel in bedreigde natuurlewe (Cites) op die internasionale handel in renosterhoring.
Hy, soos baie, meen wettige handel kan weliswaar die renoster van uitsterwing red omdat die horings deur wettige eienaars geoes kan word met betreklik min trauma vir die diere.