Regter Kate Savage se onlangse uitspraak oor ’n beoogde eiendomsontwikkeling in die Philippi-tuinbougebied in Kaapstad is geen uitsondering nie. Die aktiviste van Philippi wat die aansoek gebring het, het ’n simpatieke oor gevind by die plaaslike koerante wat oor die aangeleentheid berig het.
Dié joernaliste het in die algemeen die aktiviste se kant van die saak – dat hulle in ’n verlore stryd gewikkel was teen gierige eiendomsontwikkelaars en ’n onredelike amptenary – vir soetkoek opgeëet en omtrent woordeliks aan hul lesers opgedis.
Dit is wel so dat die aktiviste sukses behaal het. Savage het die goedkeuring vir ’n eiendomsontwikkeling aan die buitewyke van die Philippi-tuinbougebied, wat behuising vir meer as 15 000 gesinne op nagenoeg 171 hektaar sou verskaf, plus 28 hektaar se skole en kommersiële bouwerk en ’n bewaringsgebied van 77 ha, ongeldig verklaar.