Boikanyo Mokgatle, uitvoerende direkteur van die Meulenaarskamer, sê hulle het tydens onderhandelige binne die graanbedryf hul teenkanting teen die voorgestelde veranderinge uitgespreek.
Die nuwe regulasies was hoofsaaklik gemik op waterbeskadigde en gevlekte pitte nadat uitgebreide navorsing deur die SA graanlaboratorium getoon het dat dit nie ’n noemenswaardige invloed op maalgehalte het nie. Mokgatle sê die maalbedryf is egter bekommerd oor die agteruitgang in die gehalte van mielies.
Die maalbedryf het gereeld sy kommer op vergaderings van die mielieforum uitgespreek. Hy was veral bekommerd oor die implikasies wat die voorgestelde wysigings aan die graderingsregulasies op voedselgehalte en -veiligheid sou hê.