Die San het geglo ’n bose gees laat die plaag uit ’n gat in die aarde los. Hulle het ten minste die insekte benut deur rook te maak en die sprinkane wat val, te eet. Dat sprinkane baie vreet, is nie altemit nie – ’n verfemmertjie vol vreet soveel as een mofskaap.
Wat nog van ’n swerm wat 25 miljoen sterk is? Hulle val ook nie ’n plaas net een keer aan nie. Hulle kom in vlae, soos stofwolke, sit die bossies toe en wemel op die grond. Manie meen dit is skrikwekkend en senutergend, veral vir boere wat tevergeefs hoop die swerms slaan hulle oor.
Soms dink jy die swerm is verby, dan waai die wind dit terug. Sprinkaanplae is reeds in die 1700’s aangemeld. Al wys rekords dat hulle met die El Niño- en La Niña-verskynsels saamval, kon ’n verband tussen dié twee nog nie wetenskaplik bewys word nie.