Afgesien van hul ontsteltenis oor moontlike afleggings was hulle boonop erg omgekrap dat daar nie ’n woord aan lede, borge of dekade lange vennote – waaronder die Wes-Kaapse departement van landbou – gerep is oor die proses nie. Hulle moes in Landbouweekblad daarvan lees!
Die raad het op die jaarvergadering op Donderdag 24 November en waarby die media nie toegelaat is nie, aangevoer die organisasie se finansiële volhoubaarheid is in die gedrang as hulle nie nou ingryp nie.
Die herstruktureringsproses, waartydens 14 poste glo tot 5 verminder gaan word, is nie op die agenda geplaas nie. Mense verstaan die impak van covid-19 en ander struikelblokke, maar Agri-Expo se jaarverslag getuig van die een sukses op die ander.