Amper niemand praat oor hoe hidrobreking ’n uitsonderlike mors van geld was nie, skryf die rubriekskrywer David Wallace-Wells. Al kon Amerika grootliks selfvoorsienend word danksy groot hoeveelhede aardgas en olie wat op dié manier ontgin is, het dit geen verskil gemaak aan binnelandse brandstofpryse nie omdat dié pryse op die internasionale mark vasgestel word – iets wat Suid-Afrika met sy aansienlik minder besteebare inkomste nie uit die oog kan verloor nie.
Wallace-Wells skryf: “Vandag, met winste gesteun deur reuse-stygings in energiekoste van die afgelope jaar, is die hidrobrekingsbedryf uiteindelik, minstens vir die afsienbare toekoms, winsgewend. Maar van 2010 tot 2020 het die Amerikaanse skaliegasbedryf $300 miljard (R4,9 biljoen) verloor.
“Van 2002 tot 2012 het Chesapeake, die bedryfsleier, nie een keer positiewe kontantvloei getoon nie. Aan die einde van daardie tyd het hy nagenoeg $30 miljard (R495 miljard) verlies getoon.”