Aangeplante weidings is ’n belangrike bron van voer vir melk-, vleisbees- en skaapboerderye in Suid-Afrika. Vir optimale opbrengste vereis hierdie weidings gunstige grondtoestande en voldoende voedingstowwe.
Grondsuurheid is ’n algemene probleem in die hoëreëngebiede in die sentrale, oostelike en suidelike dele van die land, en te dikwels beperk dit weidingsopbrengste sonder dat die boer eers daarvan bewus is.
In vorige artikels in hierdie reeks is gekyk na die chemie van grondsuurheid en die regstelling daarvan, hoofsaaklik vir rygewasse (“Bestuur suur grond só by gewasse”, 4 Junie 2020 en “Só werk optimale gebruik kalk, gips teen suur grond”, 18 Junie 2020). Die fokus van hierdie artikel is die bestuur van grondsuurheid in aangeplante weidings.