Mikrovoedingstowwe, oftewel spoorelemente, is net so noodsaaklik vir plantgroei as die makrovoedingstowwe stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K). Ingesluit by die lys noodsaaklike mikrovoedingstowwe is sink (Zn), boor (B), yster (Fe), mangaan (Mn), koper (Cu), molibdeen (Mo) en nikkel (Ni).
Die rede waarom hierdie elemente as mikrovoedingstowwe geklassifiseer word, is omdat gewasse dit in veel kleiner hoeveelhede as makrovoedingstowwe benodig. Die toediening van verskeie van dié voedingstowwe – veral B, Cu, Mo en Ni – moet met groot omsigtigheid geskied omdat die verskil tussen voldoende en giftig baie klein is.
Dit word in grafiek 1 geïllustreer deur die hipotetiese kurwes wat opbrengs in reaksie op voedingstoftoedienings toon.