Na raming word sowat 70 miljoen hektaar grond in Afrika suid van die Sahara deur oormatige sout of soutwanbalanse beïnvloed. In Suider-Afrika kom soutgeaffekteerde grond meestal voor in besproeiingsgebiede met laer reënval, soos die Noord-Kaap, die Laeveld van KwaZulu-Natal en Mpumalanga, en Eswatini.
In die aanvanklike stadiums verskyn soutprobleme gewoonlik as gelokaliseerde kolle van swak groei. Tensy doeltreffende regstellende behandeling toegepas word, is hierdie kolle geneig om jaar ná jaar groter te word en só groot stukke grond wat voorheen vrugbaar was, onproduktief te maak.
Daar is verskillende soorte soutwanbalanse in grond. Dit is baie belangrik dat die spesifieke probleem reg geïdentifiseer word omdat die regstellende metodes verskil. Die verskillende souttoestande word in die grafiek getoon.