Met al die sterftes gedurende die covid-19- pandemie het ons weer te doen gekry met families wat nie die nodige beplanning gedoen het nie. ’n Hele paar punte wat ons gereeld met ons lesers en kliënte bespreek, is net weer bevestig.
Baie mense dink om sonder ’n testament te sterf, beteken dat die staat alles kry. Dit is nie die geval nie. Die basiese reël is dat alles gelykop tussen die kinders en gade verdeel word.
Drie kinders en ’n gade sal dus elkeen ’n kwart ontvang. Dit kan natuurlik glad nie die bedoeling gewees het nie. Daarom is ’n testament van die uiterste belang. Ongelukkig is daar niks so gevaarliks soos ’n verouderde testament nie.