
Suid-Afrika se top-brandewyne uit die Alchemy of Gold-portefeulje het vanjaar met verskeie toekennings koning gekraai op die internasionale wyn- en spiritualieë-kompetisie (IWSC) en die internasionale spiritualieë-kompetisie (ISC) wat verlede maand in London gehou is.
Alchemy of Gold is ’n versameling van internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse fynproewer-brandewyne wat hoofsaaklik by spesialiswinkels, top-restaurante en stylkroeë te koop is.
Die portefeulje se vlagskip, Van Ryn’s, het drie goue medaljes ingepalm op die IWSC vir die Distillers Reserve van 12 jaar oud, die Collectors Reserve van 20 jaar oud en die Vintage Brandy van 10 jaar oud. Die Nederburg Solera Brandy Potstilled asook ál drie Oude Meester-brandewyne, Klipdrift Gold en Flight of the Fish Eagle het silwer gewen.
Dit weerspieël die toekennings van die ISC waar die brandewyn van 12 en 15 jaar oud goud, en die van 10 jaar en die Demant silwer gewen het. Die brandewyn van 12 jaar oud en die Demant het vroeër vanjaar ook met goud op die Concours Mondial de Bruxelles weggestap.
Mnr. Siobhan Thompson, woordvoerder van Alchemy, het gesê die Stellenbosse distilleerdery Van Ryn’s het verlede jaar die IWSC Worldwide Best Brandy-trofee asook die ISC Best Brandy-trofee huis toe gebring. Die wenner van die ISC-trofee vir die beste brandewyn word later vanjaar bekend gemaak.
4 Augustus 2009