
Die eerste buitelandse telersgenootskap het as volwaardige lid by SA Stamboek aangesluit. Namibië se Bonsmara-telersgenootskap het terselfdertyd Breedplan vir die Landbounavorsingsraad (LNR) se Intergis-prestasietoetsskema verruil.
Met 36 stoettelers en 11 200 geregistreerde diere verteenwoordig dié genootskap die tweede grootste vleisbeesras in Namibië. Mnr. Nico Visser, ‘n raadslid, sê hulle onderhandel al geruime tyd met SA Stamboek en die LNR om hul diere, wat via Breedplan geregistreer en getoets is, ook op die Intergis-stelsel te registreer.
Die genootskap was voorheen lid van die Namibiese Stoettelersvereniging (NSV), maar wou eerder die LNR se prestasietoetsing gebruik. Dr. Pierre van Rooyen, Stamboek se uitvoerende hoof, sê die Namibiese genootskap is sedert middel November volwaardig lid van SA Stamboek.
Stamboek regoor die wêreld
Hy behou egter sy onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Bonsmara-telergenootskap, wat ook ‘n lid van SA Stamboek is. Van Rooyen sê heelwat buitelandse telers gebruik reeds SA Stamboek se dienste.
Telers van Suid-Afrikaanse rasse soos die Bonsmara, Afrikaner, Nguni, Boerbokke en Dorpers in onder meer Suid-Amerika, Texas, Australië en verskeie Afrika-lande waar nie telersgenootskappe is nie, gebruik Stamboek as hul registrasieowerheid.
14 Desember 2009