Omdat China altesame 63% van die Australiese skeersel koop, kry China dit reg om die ganse Australiese wolmark — die grootste ter wêreld — te manipuleer. As pryse te hoog raak, hou die Chinese bloot op om wol te koop, die pryse daal en as dit laag genoeg is, begin hy weer koop.
Mnr. Petrus de Wet, nasionale voorsitter van die NWKV, het op die Noord-Kaapse NWKV se kongres gesê dit is die rede waarom wolpryse sulke groot fluktuasies toon. Hy het onlangs teruggekeer van 'n besoek aan China.
Australië het oral kantore in Europa en ander wolkopende lande. Volgens De Wet word daar ongunstig praat van Suid-Afrikaanse wol. "Die Suid-Afrikaanse skeersel is in die algemeen die beste ter wêreld, maar kry dikwels die blaam vir onsuiwerhede wat uit Australiese en Amerikaanse wol daarin beland."
Die mark vir Suid-Afrikaanse wol lê nie in Suid-Afrika nie, het De Wet gesê. "Uit die sowat 50 miljoen mense in Suid-Afrika, is vier tot vyf miljoen ryk. In Europa, wat ses keer meer mense het, is 70% tot 90% van sy bevolking ryk. Dít is waar die mark lê. Daarom is geld wat aan promosies bestee word, redelik ondoeltreffend in Suid-Afrika en moet dit eerder internasionaal op groter markte bestee word."
Die Chinese se lone is gemiddeld R700 per maand en hulle werk 75 uur per week. Sowat 300 miljoen van dié land se bevolking is baie ryk — uit sowat 1,3 miljard mense. Daar is egter roeringe, want die ongelykhede begin nou aandag trek.
De Wet wonder of Suid-Afrikaanse wol se heil in Europa of China lê. "China het verlede seisoen 18% van die Suid-Afrikaanse skeersel gekoop. Dit het vanjaar tot 28% gestyg. Altesame 68% van die Suid-Afrikaanse skeersel word egter steeds in Europa verkoop." Hy meen dat dit die land se grootste wol-handelsvennoot sal bly.
Mnr. Harry Prinsloo, ondervoorsitter van die NWKV Indië besoek het, sê van die 1,2 miljard mense in daardie land is 555 miljoen onder 25 jaar oud en 150 miljoen mense word as middelklas geag. Daar is 35 miljoen mense by die tekstielbedryf betrokke. Indië voer sowat een miljoen kilogram Suid-Afrikaanse wol in. Dié land het 'n groeikoers van 8,3%.
Of lande soos China en Indië 'n bedreiging of geleentheid vir Suid-Afrika is, is te debatteer, maar in die algemeen word die plaaslike skeersel as baie goed wêreldwyd gereken — ook in Indië. 'n Probleem is egter dat arbeidskoste baie hoog in Suid-Afrika is. As die land 'n wêreldspeler wil wees, sal dit aandag moet kry, meen Prinsloo.
Landbouweekblad, 9 Maart 2007