
Die gebruik van brou-grondstowwe soos broodwortel en piesangs in Afrika-lande en sy aanvaarding van tradisionele, plaaslike drankies, het SABMiller gehelp om sy belange op die vasteland uit te brei, luidens dié maatskappy se tussentydse resultate.
“In Uganda en Nigerië produseer sommige boere op versoek van die maatskappy broodwortel vir uitsluitlik sy gebruik,” sê mnr. Chris Gilmour van Absa Batebestuur. In Tanzanië word piesangs gebruik omdat dit algemeen beskikbaar en goedkoop is, luidens ’n berig op Fin24.com.
“Hulle verskaf finansiële en tegniese steun aan kleinboere en gebruik dan dié boere se produkte,” sê Gilmour. Dié strategie het goedkoper bier tot gevolg en bevoordeel ook groeiende ekonomieë op die vasteland.
“SABMiller verstaan Afrika goed en neem Afrika-tradisies as sy eie aan.” Die maatskappy se inkomste het in die ses maande tot 30 September met 6% gedaal, maar sy biervolumes in Afrika het in dié tydperk met 8% tot 12,3 miljoen hektoliter gestyg.
Uitbreiding in Afrika stoom ook voort met planne vir nuwe aanlegte in Tanzanië, Mosambiek en Angola. Die kapasiteit van sy bedrywighede in Uganda, Soedan en Ghana is verbeter en aankope van plaaslike besighede in Etiopië en Zambië is afgehandel. Sy belange in Algerië en Kameroen groei sterk vanweë sy vennootskap met die Franse brouer Castel in dié dele van Afrika.
Bron:
26 November 2009