Die SA Veeartsenykundige Raad (SAVR) het tydens die NKWV-kongres in Port Elizabeth aangedui dat hy voortgaan met sy voorgestelde verandering van regulasies aangaande die skandering van diere vir dragtigheid.
Die SAVR stel voor dat geen mediese instrument deur iemand wat nie as 'n veearts geregistreer is gebruik mag word vir die diagnose van siektes of dragtigheid, of om patologiese of fisiologiese diagnoses by diere te doen nie. Die tekort aan veeartse in Suid-Afrika het egter kommer oor dié besluit verwek.
Dié nuus het ook vrese ontlok dat skandering, veral vir skaapboere, onbekostigbaar sal word indien die wysigings aangebring word. Diegene wat ook die diens tans verskaf weens 'n tekort aan veeartse, soos wolmakelaars, is bekommerd oor die moontlike verlies van inkomste wat die verander teweeg kan bring.
Bemagtiging
Volgens die SAVR maak die wet wel voorsiening vir omstandighede waar 'n tekort aan veeartse ondervind word. Me. Hanri Kruger van die SAVR het gesê dat individue deur veeartse bemagtig kan word om paraveterinêre en veterinêre dienste te lewer.
Dit sal benodig dat die gemagtigde persoon verantwoording aan die SAVR sal moet doen aangaande sy of haar professionele gedrag en dat daar minimum standaarde in plek gestel sal word. Volgens Kruger is daar geen klaring is oor wanneer die wysiging bekragtig sal word nie.
Volgens dr. Danie Odendaal van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging is dit belangrik dat bevoegde mense dié tipe van mediese ondersoeke en toetse hanteer. Hy meen dat die kwaliteit van die diens so gewaarborg kan word en dat verantwoording ook beter sal geskied.
9 Junie 2008