Die tekstuur van voer, die hoeveelhede wat aan skoudiere gevoer word en voeding tydens die skou self dra by tot die afronding van dié diere en uiteindelik hoe hulle in die skouring lyk.
Hoe moet voer lyk en voel, hoeveel en wanneer moet ek voer? Hierdie en nog meer vrae word in die derde en laaste aflewering van Landbouweekblad se reeks oor die afronding van beeste vir die skouring beantwoord.
Voer moet 'n goeie tekstuur hê, naamlik 'n goeie mengsel van partikelgroottes en so min moontlik uitermatige fyn of growwe materiaal. Stowwerige of gemufde voer moet glad nie gebruik word nie. Wanneer diere hoes, kan dit 'n aanduiding van stowwerige voer wees. Die graangedeelte van die voer moet dus nie te fyn verwerk word nie.
Een van die belangrikste aspekte van dierevoeding is die hoeveelheid wat hulle vreet. Daarom is dit noodsaaklik om die voer akkuraat met 'n skaal af te meet, veral as die skouman sy voer self meng. Baie mense voer hul beeste volgens die volume van 'n koffieblik of emmer. Dit is onakkuraat. Voere kan drasties verskil en die meeste mense skat gewig swak.
Voer daagliks minstens 1,5 kg tot 2,5 kg hooi. Die voer van lusern van 'n goeie gehalte kan diarree bevorder, aangesien dit baie proteïen bevat en gewoonlik maklik verteer word. Goeie grashooi of 'n mengsel van 1 kg lusern met 1 kg tot 1,5 kg grashooi sal beter wees. Koringsemels of gedroogde beetpulp/sitrusmelassemeel is ook goeie voere om volume aan 'n rantsoen te verleen. Geeneen daarvan moet egter meer as 20 % van die rantsoen uitmaak nie.
As dit lyk of 'n dier se pens te groot word, verminder dan die hoeveelheid van hierdie grondstowwe in die rantsoen. Beeste moet egter 'n mate van pensvul dra om voldoende groei te verseker.
Verandering van voeding. 'n Reeks rantsoene moet gebruik word soos wat die dier groei. Aanvanklik behoort 'n aanpassingsrantsoen gegee te word wat meer proteïen (veral rumenverbyvloeiproteïen), minerale en vitamiene en 'n bietjie meer vesel bevat om die dier 'n goeie wegspring en die jonger dier meer geskikte voer vir sy stadium van ontwikkeling te gee.
Sodra die dier se voerinname voldoende is en hy goed vreet, behoort die skouman oor te skakel na 'n groeirantsoen wat die dier laat groei en spier- en beenontwikkeling bevorder sonder om 'n klomp voortydige vet te laat aansit. Dit is veral belangrik by verse.
Uiteindelik moet die dier se voeding oorgeskakel word na 'n energieryker afrondingsrantsoen wat gewigstoename en 'n afgeronde voorkoms of egalige vetneerlegging bevorder. Hoewel die meeste beoordelaars nie 'n oormatige vet dier in die skouring wil hê nie, verkies hulle wel diere wat 'n geskikte graad van afronding of "vetheid" toon.
Die ideaal is om met iemand saam te werk wat voldoende kennis van herkouervoeding het om vir die dier 'n spesifieke rantsoen volgens die beskikbare voerbronne uit te werk. Wanneer die skouman van een voer na 'n ander oorskakel, moet hy dit verkieslik oor drie tot vier dae doen deur die huidige voeding met die een te meng waarna hy wil oorskakel, verkieslik om die helfte.
Behoud van kondisie van beeste. Dit is altyd 'n uitdaging om kondisie te behou, omdat verskillende veeskoue op verskillende tye van die jaar plaasvind en dit moeilik is om 'n dier te alle tye in presies die regte kondisie te hou.
'n Algemene vraag wat veral van mededingers in karkaskompetisies gehoor word, is: "My os is reeds gereed en die kompetisie is eers oor 30 dae. Hoe kan ek sy gewig en afronding behou?"
Ongelukkig is daar nie 'n goeie antwoord op hierdie vraag nie. Om 'n os in kondisie te probeer hou, kan vetneerlegging in die spierweefsel verander en die voorkoms van donkerkleurige vleis (weens strestoestande) meebring.
Die ideaal is om saam te werk met iemand wat goeie kennis van beesvoeding het. Maak 'n beraming van wat die afgeronde gewig van die dier gaan wees. Stel 'n voerprogram saam wat gewigstoename sal meebring in ooreenstemming met die datum wanneer die bees gereed moet wees. Dit word gedoen deur die verhouding van ruvoer en graan wat in verskillende periodes van die voerprogram gevoer word, te verander.
Voedingsbestuur by die skou. By aankoms op 'n skou is dit waarskynlik die beste om die diere nie dadelik kos en water te gee nie. Gee hulle eers kans om te rus, veral as die reis langer as 'n uur of twee geduur het. Ná 'n ruskans behoort die beeste vir hul eerste voeding slegs die helfte tot twee derdes van hul normale voerinname te ontvang. Hierdie hoeveelheid kan geleidelik met elke voeding verhoog word.
Dikwels word die hoeveelheid goeie, droë hooi by skoue verhoog, aangesien dit die kans verminder dat die beeste hul voer sal weier en hul mis ook fermer maak. Dit is dan makliker om die dier en stalle skoon te hou.
Water moet aanvanklik beperk word sodat diere nie siek word nie. Moenie toelaat dat hulle oormatige hoeveelhede water suip nie, al is hulle dik gevreet. Diere kan weerstand bied teen water waaraan hulle nie gewoond is nie. Die byvoeging van 'n koppie melasse of 'n halfkoppie sout of suiker per 20 liter water kan enige ongewone smaak of reuk uitskakel. Die ideaal is om vyf tot sewe dae voor die vertrek na die skou daarmee te begin sodat die dier aan die verskil gewoond kan raak.
Dit is nie buitengewoon dat beeste weier om voer by 'n skou te vreet nie. As hulle nie goed vreet nie, moet die volgende aspekte nagegaan word:
- Moenie diere pla, soos om hulle te kam of te borsel, terwyl hulle vreet nie. Verstel die toulengte. Die diere moet maklik by die voerkrip kan kom.
- Gebrek aan oefening kan 'n dier se eetlus demp. Gaan stap 'n ent met die dier. Dit kan sy eetlus stimuleer.
- Is die voer verander?
- Is die dier dors?
- Is hy op dieselfde voedingsprogram as by die huis?
- Navrae: tel. 012 664 9900, e-pos: hkoster@afgri.co.za.
- Dr. Hinner Köster is besturende direkteur van Scinetic, 'n afdeling van Afgri.
Landbouweekblad, 25 Junie 2007