Die afgelope paar jaar het covid-19 skoue ernstig benadeel en selfs in die wiele gery. Landwyd kon skoue vir ’n jaar of twee glad nie plaasvind nie, en net toe die covid-19-stof gaan lê het, het bek-en-klouseer toegeslaan.
In baie gevalle was diere reeds voorberei vir skou toe dit afgestel moes word. Uitstekend afgeronde diere op plase het die gedagte by mnr. Jaco Smit, ondervoorsitter van die Wes- en Suid-Kaapse Angus-klub, laat ontstaan: As die diere nie dorp toe vervoer kan word nie, kan hulle mos op die plaas beoordeel word.
“Baie boere sien ook om uiteenlopende redes bloot nie kans om aan gewone skoue deel te neem nie. As beoordelaars en belangstellendes van plaas tot plaas kan ry en die diere net daar beoordeel, sal soveel meer telers deelneem. ’n Mens betrek dus mense wat nooit voorheen aan skoue deelgeneem het nie, maar uitstekende beeste het,” sê hy.