
Die Royal-skou word jaarliks aangebied deur die Royal-landbougenootskap en vier vanjaar sy 172ste herdenking. Die skou vind vanjaar van Vrydag 26 Mei tot Sondag 4 Junie plaas.
Dit is die laaste jaar dat die Royal-skou by Pietermaritzburg aangebied gaan word. “Die skou skuif volgende jaar na ’n nuwe tuiste by Hilton,” sê mnr. Angus Williamson, ’n lid van die reëlingskomitee. “Dit is ons 160ste jaar by die huidige venue en aangesien dit ons laaste skou daar gaan wees, wil ons sorg dat dit ’n heuglike ervaring sal wees.”
Die groot belangstelling van uitstallers in die veesektor het alle verwagtinge oortref. Teen einde Januarie was byna 100% van die binnenshuise standplase, en 60% van die buite-standplase reeds bespreek. “Vertoners van die Karoo tot in Noordwes gaan hul vee bring. Ons het al inskrywings gekry voordat ons die inskrywingsvorms kon uitstuur.”
Daar is ’n lekker groot verskeidenheid uitstallings met sterk klem op gehalte. Besoekers kan onder meer uitsien na twee nasionale veekampioenskappe – die Hampshire Down-skaapras, en vir die eerste keer die Chianina-beesras, ’n buitengewoon groot vleisbees van Italiaanse afkoms.
“Ons gaan beeste, skape, bokke, konyne en nog vele meer hê. Hierdie is ’n uitstekende geleentheid om jou vee te kom vertoon,” voeg Williamson by.
Hy verseker vertoners dat die Royal-skou vanjaar pro-aktief gaan wees ten opsigte van biosekerheidsmaatreëls om vee teen siektes soos bek-en-klouseer te beskerm. “Ons het verlede jaar met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) saamgewerk om baie streng veiligheidsmaatreëls in te stel en sal vanjaar dieselfde voorsorgmaatreëls tref. Die RPO sal ook ’n veearts aanstel wat al die vee voor en ná die skou gaan inspekteer.”
Die KwaZulu-Natalse jeugskou gaan ook vanjaar deel wees van die skouplatform. Dit bied ’n prettige leerervaring vir skoliere en studente en word gedurende die eerste naweek gehou. Enigeen kan deelneem en diere (beeste, skape en bokke) word aan die deelnemers geleen.
Nog ’n opwindende jeugaktiwiteit is die KwaZulu-Natalse afdeling van Toyota SA se jong afslaerskompetisie. Dit vind op Maandag 29 Mei plaas. Benewens die groot pryse wat op die spel is, kry die deelnemers ook waardevolle blootstelling wat tot loopbaangeleenthede kan lei.
Die Royal Show-karkaskompetisie is een van die belangrikste geleenthede op die rooivleisbedryf se kalender. Dit vind op Dinsdag 30 Mei plaas en sal regstreeks gestroom word.
Die mededingende bees- en skaapafdeling sluit Woensdag 31 Mei af met die skouspelagtige Goue Beker-beesparade in die hoofarena. Sowat 12 tot 14 verskillende beesrasse sal aan die parade deelneem. “Ek dink dit gaan baie spesiaal wees vir veeboere.”
Ander landbouverwante uitstallings sluit in die skaap-en-wol-ekspo met skaapskeerdemonstrasies oor die naweek, ’n insiggewende uitstalling deur die Melkprodusente-organisasie, die heuningsaal en die immergewilde voël- en konynafdelings.
Ná die sukses van 2022 sal die verfrissende nuwe formaat van die handwerksaal voortgesit word. Besoekers sal die fyn kuns van koekversiering, kwiltwerk en blommerangskikking kan kom bewonder.
Die vermaaklikheidsprogram word nog gefinaliseer, maar die musiekkomponent is reeds bevestig. Die skou gaan afskop met die East Coast Radio Royal Rock Concert op 27 Mei, met gewilde kunstenaars, soos Jesse Clegg, Prime Circle, Lee Cole, Shadowclub en The Ross Harding Band.
Die Royal-simfoniekonsert sal op Sondag 28 Mei plaasvind en die Hindvani FM Extravaganza op Saterdagaand 3 Junie. Die skou sluit op Sondagmiddag 4 Junie af met die RSG-konsert, wat sangers soos Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Dirk van der Westhuizen en Pieter Smith insluit.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.