
Hande is diep in die sakke gesteek op vanjaar se Suffolk-veiling in Bloemfontein waar Suid-Afrikaanse rekordpryse van R160 000 vir ’n Suffolk-ram en R70 000 vir ’n ooi betaal is.
Die rekordram het behoort aan mnr. Gert Malherbe van die plaas Graslaagte by Hertzogville en die koper is mnr. Mark Gietzman van Hageland-boerdery by Klerksdorp. Malherbe sê dit is ’n ram wat hulle self in hul stoetery gebruik het. Hy was die senior kampioen op die nasionale kampioenskap vanjaar. “Hy teel baie goed en ons het van sy afstammelinge gehou om nou verder mee te teel. Hy is sowat drie jaar oud.”
Die verkoper van die rekordooi is mnr. Tjaart Steenekamp van 2 Seuns Suffolk wat die ooi aan me. Nicola en mnr. Japs Jordaan van Cradock verkoop het. Steenekamp sê die ooi is sowat 14 maande oud en hoogs vrugbaar. “Sy is een van ’n tweeling, sy toon self baie goeie syfers en sy is ’n top- jong ooitjie.”
Hy sê dit was ’n baie goeie veiling en hy het selfs vir kort rukkie die rekordprys van R120 000 vir ’n ram gehad. “Kort daarna is die prys egter oortref met die prys van R160 000.”
Mnr. Gert Jordaan, afslaer van BKB, sê daar is voortgebou op die momentum van verlede jaar se goeie veiling. “Die gehalte van die diere was baie goed en dit is verblydend om te sien hoe dit jaarliks toeneem. Ons sien uit na volgende jaar se veiling.”