
Die hoogste prys was R550 000 vir ’n drie-in-een (’n dragtige koei met ’n kalf) wat deur Up George Farms van mnre. Derick en Tutu Ralph van Wasbank aan mnr. Eloff Muller, Tambaraine (Edms.) Bpk. van Mosselbaai, verkoop is.
Die tweede nasionale rekord was vir ’n dragtige vers van Up George wat vir R200 000 deur mnr. André van der Heyde, Boschhoek Bonsmaras, Modimolle, opgeraap is. Nog ’n topprys was R220 000 vir ’n drie-in-een-koei van mnr. Arthur de Villiers, AG Bonsmaras, Vrede, wat deur mnr. Johan Goosen, Springbok- en Blue Bulls-losskakel, G10 Bonsmaras, Burgersdorp, aangeskaf is.
Die veiling is deur Vleissentraal Bloemfontein aangebied en die afslaer was mnr. Mike Killassy.
Mnr. Louis Steyl, uitvoerende hoof van Bonsmara SA, het die veiling as een van die bestes in die ras se bestaan bestempel. Daarvan getuig die hoë gemiddelde pryse. “Die hele aanbieding van 45 vroulike diere was van hoogstaande gehalte.”
Die elf dragtige koeie met kalwers het gemiddeld R155 000 behaal (hoogste prys R550 000), veertien koeie met kalwers gemiddeld R77 857 (hoogste prys R160 000), twee dragtige koeie gemiddeld R50 000 (R50 000 elk) en agttien dragtige verse gemiddeld R90 556 (hoogste prys R200 000).
Die veiling moes op die nippertjie vanaf die Stonehenge River Estate na die Afridome verskuif word nadat die markiestent waarin die veiling sou plaasvind, weens swaar reën oorstroom is.