
Die Willowmore-skou vir stoet- en kudde-Angoras is onlangs op die plaaslike skouterrein aangebied. Dit is deur mnr. Andries Greeff en sy eggenote, Ansie, georganiseer. Die skou het ook ’n klas gehad vir opkomende boere in die bedryf.
“Die opkoms van die twee dae het ons almal verbaas, van die gehalte diere en die aantal toeskouers wat kom kyk het.”
Volgens mnr. Petrie Maré, bestuurder van dieregenetika en ontwikkeling by House of Fibre en een van die beoordelaars van die skou, het die voortslepende droogte die afgelope sewe jaar in die sybokhaarproduserende gebiede veroorsaak dat skoue redelik doodgeloop het. Boere was moedeloos en emosioneel uitgeput was weens al die voerdery.
“Ons het daarom lanklaas ’n lekker Angora-skou gehou. Toe die reën laasjaar kom en die veld weer begin mooi raak en die bokhaar in die somerseisoen goed verkoop het, het Willowmore besluit om ’n Angora-skou te huisves.”
Hy was veral beïndruk met die verbetering van die gehalte van die diere danksy teling sedert die vorige skou nege jaar gelede laas aangebied is.
“Dit maak ’n mens trots om die pragtige diere te sien in so ’n gesogte kleinveebedryf, veral hier in die Oos-Kaap.”
Hy sê daar was veral baie goeie ramme en stoetooitjies op die skou te sien. Van die ramme sal binne die volgende twee weke by twee groot veilings, die Graaff-Reinet-ramveiling en die veiling van Newlands Angoras en gaste, aangebied word.
Volgens mnr. Hans Greeff, wat bygestaan het met die organisering en ook as vertoner betrokke was by die Grootfontein-landboukollege se Angora-stoetery was van die wêreld se beste Angoras op die skou te sien.
“Die kampioene en die ramme met die beste vag en bouvorm is van absolute topgehalte.”
Raad en moed
Volgens Maree kon produsente ook byeenkom om raad te kry oor die afgelope sewe jaar se droogte, en om mekaar moed in te praat. Die twee dae het weer die geleentheid gebied vir produsente en telers om bymekaar te kom, “te gesels oor boerdery, bokhaar oor die algemeen, genetika en diere”.
Volgens Greeff was die skou ook ’n goeie geleentheid vir sy studente wat almal betrokke was by die Grootfontein-landboukollege se Angora-stoetery. Die studente was onder meer betrokke by die voorbereiding van die bokke vir die skou en het ook vroeër vanjaar deelgeneem aan gemeenskapskoue, soos die Cradock-skou. “Hier kon hulle nou die geleentheid kry om dit wat hulle geleer het, toe te pas en te spog. Die studente is baie trots op wat hulle gedoen het.”
Greeff voeg by dat dit fantasties was om die opkomende boere by die skou te kon insluit, aangesien die boere in dieselfde ring as die stoet- en kuddeboere kon skou, wat beteken dié boere is goed ondersteun vanuit die vol pawiljoene.
@landbouweekblad Die video is deur Fredalette Uys geneem. #landbouweekblad #lbw #angora #agriculture #southafrica #fyp #landbou ? Life In A Sunny Farm - Main Version (Happy Folk Acoustic) - SplashStudio
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.