
’n Land se kapitale rekening dui aan wat die balans van ’n land se fisiese en finansiële bates is. Hierdie finansiële bates sluit in aandele en staatseffekte (“bonds”).
Die onderstaande tabel illustreer hoe fondse uit aandele gevloei het sedert die begin van 2017, en hoe daar terselfdertyd fondse in staatseffekte ingevloei het. Die totaal is ’n invloei van R 1.447 miljard.
Die onderstaande grafiek wys dat daar baie fondse uit Suid-Afrika gevloei het in 2016. Bo verwagting lyk 2017 se finansiële jaar tot dusver effe beter.
Die uitvloei van fondse in 2016 het gepaard gegaan met ’n versterking van die rand (sien onderstaande grafiek), wat ironies is.
As daar gekyk word na buitelandse beleggers in Suid-Afrikaanse aandele, is dit duidelik dat beleggers se doelwit kapitale appresiasie oor die medium tot lang termyn is, asook om dividende te ontvang. Wanneer dit by staatseffekte kom, is daar beleggers wat hoop om voordeel te trek uit Suid-Afrika se hoër rentekoerse.
Die sogenaamde “carry trade” beteken beleggers leen geld in lande met laer rentekoerse, byvoorbeeld die VSA en Japan, en belê dan die fondse in lande met hoër rentekoerse, gewoonlik ontwikkelende lande soos Suid-Afrika. Hierdie beleggers is meer spekulatief van aard, en verteenwoordig net ’n deel van beleggers in staatseffeffekte.
Suid-Afrika se onlangse kredietafgraderings tot rommelstatus het die land se beeld as beleggingsopsie geen gunste gedoen nie. Dit is seker moontlik dat beleggers al ’n geruime tyd so iets verwag het en reeds fondse uit die land begin onttrek het in 2016, aldus die bostaande grafiek.
Die onlangse verswakking van die dollar teenoor die euro veduidelik ook deels hoekom die rand versterk het teenoor die dollar. Dit wil blyk asof van die markte begin onseker raak oor die kredietwaardigheid van president Trump se aspirasies rondom ekonomiese groei vir die VSA.
Ten slotte: Die volgende faktore moet dopgehou word om te probeer verstaan waar die rand kan verhandel in die volgende 12 maande:
• Die relatiewe dollar sterkte/swakte: Gaan die dollar verder verswak teenoor die euro?
• Suid-Afrikaanse rentekoerse: Gaan die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank (SARB) rentekoerse verlaag? Laer rentekoerse kan ’n swakker rand tot gevolg hê.
• Invloei en uitvloei van fondse in Suid-Afrika: Dit word deels bepaal deur rentekoerse en gevolglik beïnvloed dit spekulante se siening van die “carry trade”.
• Die plaaslike onsekere politieke omgewing raak nie net die rand se waarde nie, maar ook op die ekonomie se vermoë om teen ’n hoër koers te groei.
- Edwin Smit is ’n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ’n gemagtigde finansiële diensteverskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39889, en ook ’n geregistreerde JSE-finansiële handelaar van BVG Commodities (Lid van die JSE). Hy is ’n gereelde spreker op RSG. Sy kontakbesonderhede is: (012) 484-4013 of edwin.smit@bvg.net. Die volgende dienste word gebied:
• Wisselkoersverskansing op BVG se Yield-X (JSE) lisensie. Lesers kan inteken op die daaglikse valutaverslag.
• Die ruil van fisiese kontant in samewerking met Absa en Investec: Omskakeling van rande na dollars, euros en ponde, en vice versa. Fondse word direk in kliënte se Absa of Investec bankrekening betaal: BVG Financial Solutions neem dus self nie die fondse in ontvangs nie.
• Aandeleportefeuljebestuur in samewerking met Momentum SP Reid Securities. Lesers kan inteken op die daaglikse aandeleverslae.