
Die jaarlikse konferensie oor geenbewerking op Drakensville in KwaZulu-Natal, waarvan Landbouweekblad 'n mediaborg is, sal op 2 September met 'n uitgebreide fokus op sojaboonproduksie afskop.
Eerste op die program is dr. Gerhard Scholtemeijer, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting (PNS), wat oor uitbreidingsmoontlikhede vir sojaprodukie in Suid-Afrika sal praat.
Dan sal die invloed van genotipe, ry-spasiëring, plantdatum en plantpopulasie op soja-opbrengste onder die loep kom, asook bemesting, bekalking, stikstofbinding, innokulasie en siektebestuur, deur drr. Antony Jarvie en Rikus Kloppers van Pannar, Wessel van Wyk, sojaboon-konsultant vir die PNS, en dr. Ahmed Hassan van die LNR se Plantbeskermingsinstituut.
Op dag twee sal boere oor hul eie uitdagings en suksesse in geenbewerking-sojaverbouing praat, gevolg deur sessies oor glifosaat-gebruik deur die plaagbeheerkundige dr. Charlie Reinhardt, en die herstel van gedegradeerde grond vir geenbewerking deur onder andere dr. Wayne Truter van Tukkies. Die derde dag se besprekings sal oor die integrasie van veevertakkings in geenbewerkingstelsels handel.
Plaasbesoeke is ook op die program, asook die gebruiklike uitstallings van werktuie en toerusting. Kontak Sandra Findlay om te registreer, by 082 472 5987, (033) 330 2062 of ntcsandra@gmail.com; of Moira by (033) 320 1070 of ntcmoira@gmail.com; die volledige program en meer inligting is by www.notillclub.com te kry.