
Produsente van pomelo’s en sagte sitrus het die Sitruskwekersvereniging gevra om vanjaar produsente se ondersteuning vir ’n markontwikkelings- of bewusmakingsveldtog onder verbruikers te toets.
In die geval van pomelo’s is dit op Japan (80%) en Brittanje (20%) gerig en vir sagte sitrus is Brittanje die fokuspunt. Die Wêreldbeker-sokkertoernooi sal goeie internasionale dekking vir Suid-Afrika bring, wat ’n ideale geleentheid skep om die land se sitrus bekend te stel.
Mnr. Justin Chadwick, hoof uitvoerende beampte van die Sitruskwekersvereniging, sê Suid-Afrika oorheers die Suidelike Halfrond se sitrusuitvoer (en dus uitvoerneigings), met ’n markaandeel van 62%. Wat pomelo’s en lemoene betref, is die land se markaandeel onderskeidelik 93% en 75%.
Laer uitvoervolumes is in ál die sitrusuitvoerlande in die Suidelike Halfrond ondervind, soos -9% in Suid-Afrika, -11% in Uruguay, -29% in Argentinië en -70% in Peru.
24 Desember 2009